Friday, 21 March 2014

Vuur


Daar is 'n vuur wat jou nie kan brand nie.  Dit is die vuur wat tussen jou en die Here Jesus Christus is.  As Hy vir jou sê om jou hand deur die vuurtjie na Hom toe uit te steek, sal jy Hom vertrou en dit te doen?  Wat gaan jou eerste gedagtes wees?  Dat die vuurtjie jou gaan brand?  Maar as Jesus by jou is, en Hy sê vir jou om Sy hand te vat, maar dit gaan beteken dat jy jou hand deur die vuur gaan moet steek, sal jy dit doen?  Soms vra Jesus van ons dinge wat vir ons onmoontlik of "snaaks" lyk, soms lyk dit asof dit wat God van ons vra, ons leed gaan aandoen, maar as Jesus by jou is, sal niks jou leed aandoen nie.  Jes 43:2 sê:  "As jy  deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie.  3 Want Ek is die Here, jou God, die Heilige van Israel, jou Heiland.  5  Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou"  As Jesus vir jou sê om jou hand deur die vuur te steek om Sy hand te vat, sal daardie vuur jou nie brand nie.  Dit is 'n baie lekker gevoel diep in jou wese wat jou warm maak vanuit jou diepste wese.  Ps 39:4:  "My hart het warm geword in my binneste;  'n vuur het ontvlam by my gesug…" Ons het daardie vuur nodig!  Hierdie vuurtjie is tussen ons en Jesus en om een met Hom te word, moet jy Hom genoeg vertrou om jou hande deur die vuur te steek na Jesus toe.  Ons het hierdie vuur in ons lewe nodig en dis die Heilige Gees.  As ons op 'n punt kom en Jesus so vetrou in ons lewens, ontvang ons die "Vuur" binne ons en dit maak ons een met Jesus Christus, God die Vader.  Hierdie "Vuurtjie" moet brand binne ons en ons moet 'n lig vir die wêreld wees.  Ons moet sterre vir die Here op aarde wees wat helder skyn.  Dis die HG binne jou wat jou maak skyn.  Ons moet gaan na hulle wat uitgedoofte sterre is, wat moeg is en ons moet hulle bemoedig en hulle help om weer te begin skyn, ons moet hulle help om weer hulle "Vuurtjie" aan die brand te kry.   

Maar dan is daar 'n vuur wat baie gevaarlik is vir ons.  Dis die vuur wat binne jou mond is - jou tong.  Ons almal maak foute, ons almal gebruik ons tong soms op die verkeerde manier.  Jak 3:2:  "Want ons almal struikel dikwels.  As iemand in woorde nie struikel nie, is hy 'n volmaakte man, in staat om ook die hele liggaam in toom te hou."   Ons almal maak foute, daar is nie een van ons wat nooit struikel met ons tonge nie.  Maar as jy hierdie gaan lees, gaan jy hopenlik mooi dink voor jy dit weer doen.  Dis 'n les wat ek uit my eie lewe geleer het en ek weet die Here wil hê ek moet dit deel met soveel as moontlik mense, dis hoekom ek die les moes leer, sodat baie ander uit my foute kan leer en ophou om dit te doen. 

Die geestelike atmosfeer of lug wat om die wêreld hang, is veronderstel om in God se oë mooi helderkleurige lig te wees.  Maar die wêreld se atmosfeer of lug in die gees is pikswart, dis besoekdel a.g.v al die sondes van die mens.  Ons woorde wat uit ons monde kom, speel 'n baie groot rol in die besoedeling van die atmosfeer in die gees.   Elke keer wanneer jy iets leliks oor ander of vir ander sê, gaan hang daardie lelike woorde in die lug en dit maak die lug swart.  Geen wonder dat Jakobus sê die tong is 'n vuur, nie.  Die tong is inderdaad 'n vuur!  Wanneer 'n vuur brand, gee dit aaklike koolstofdioksied vry wat baie giftig is, dit besoedel figuurlik die aarde se atmosfeer.  Net so dit tong!  Wanneer jy lelike woorde spreek is dit soos 'n vuur wat ook giftige afskeiding afgee wat die aarde se atmosfeeer in die gees ook besoedel en swart maak.  Die oomblik toe die Here dit aan my bekend maak en dit vir my verduidelik, was ek gebroke, want ons is deur God gestuur om 'n lig vir die wêreld te wees, om die geestelike atmosfeer ligter te maak en nie te besoedel nie.  En hier is ek, 'n kind van God, en in plaas van om mooi woorde te spreek en die atmosfeer ligter te maak, besoedel ek nou en dan die atmosfeer met negatiewe woorde, selfs vloeke. Al wat ek kon doen, was om te breek voor God se voete en om onverskoning te vra vir die sondige mens wat ek is.  Nie een van ons is volmaak nie, ons almal maak foute.  Ons almal besoedel die atmosfeer in die gees, en ons behoort ons te skaam daarvoor.  Dis nie waarvoor God ons wil gebruik op aarde nie.  Ons moet skyn vir God, ons moet die swart atmosferiese besoedelde gemors in die lug breek met mooi en positiewe woorde, met seeninge wat ons uitspreek oor ander, nie met vloeke en lelike woorde nie.  Ek kry so skaam hieroor, want met dieselfde tong waarmee ek God aanbid en loof en prys, vervloek ek ander mense.  (Jak 3:9)  Uit dieselfde mond kom seën en vervloeking.  Dis mos nie reg nie….  Jak 3:11,12:  "'n Fontein laat tog nie uit dieselfde oog vars en bitter water opboorrel nie?  'n Vyeboom kan tog nie olywe voortbring, of 'n wingerdstok vye nie?  So kan geen fontein brak en vars water voortbring nie." 

Die ergste is dat wanneer ons iemand vervloek met vuur uit ons  mond, gaan kleef daardie vloek vas aan die persoon vir wie ons vervloek.  Ons besmet daardie persoon met ons woorde! Jak 3:6:  "…dit besmet die hele liggaam…" Ons laai nie net skuld vir onsself op nie, ons besmet nog ander mense ook met ons woorde!  Dis verskriklik!  Ons raas so vinnig met ons kinders of geliefdes en as hulle ons regtig kwaad maak, dan kom daar sommer vuur uit ons monde ook uit. Ons besmet ons eie kinders en geliefdes.  Ons belaai hulle met vloeke!    Dis 'n skande. 

Maar gelukkig het ons 'n genadige God voor wie ons kan kniel en uit ons diepste wese met 'n opregte en eerlike hart ons sondes kan bely.  Ons moet voor God bely vir die baie mense wat ons al besmet het met die vuur uit ons mond.  Ons moet bely oor hoe ons ook al die geestelike  atmosfeer besoedel het met ons woorde. God is genadig en Hy het SY Seun laat sterf vir ons tekortkominge.  As ons harte opreg is en ons regtig berou het oor wat ons gedoen het, vergewe God ons.  Maar laat ons probeer om vir elke lelike woord wat al uit ons mond gekom het, eerder 'n mooi, goeie, opbouende woord te laat uitgaan.  God is getrou in wat ons vir Hom vra.  Ons moet Hom vra om ons te help daarmee, want ons kan niks uit ons eie krag doen nie.  Maar wanneer God ons krag gee, kan ons baie uitgerig kry.  Dan kan ons begin om ons tonge meer in toom te hou.  Ons moenie toelaat dat ons tonge on beheer nie, ons moet ons tonge beheer.  Ons moet vir God vra soos in Ps39:2:  "Ek wil my weë bewaar, sodat ek nie sondig met my tong nie,  ek wil my mond in toom hou solank as die goddelose nog voor my is" 

Ons moet die "Vuur"  diep binne ons wese aan die brand hou en die vuur uit ons monde, blus.

Mat 3:11:  "Hy sal julle doop met die HG en met vuur"

Hand 2:1-3

 

No comments:

Post a Comment